Die AGS Witrivier-gemeente is amptelik op Sondag 11 Februarie 1962 gestig, wat vanjaar dus hul 60ste bestaansjaar maak.
Die AGS Witrivier-gemeente het nie sommer net gebeur nie, maar is mettertyd gebou.
Aan die beginjare het dit maar moeilik gegaan – die feit dat die gemeentekas nie sterk genoeg was om ‘n voltydse pastoorspaar te dra nie, het daartoe gelei dat pastore gekom en gegaan het.
Vir die eerste agt jaar het die lidmate konstant aan die fondamente van dié gemeente geskaaf en gebou. Vir die eerste 10 jaar was daar geen aanbiddingsplek nie en dienste is aanvanklik by van die lidmate se huise gehou; later het hulle by die munisipaliteit se M.O.T.H-saal vergader.
HJ Visagie het die perseel waarop die kerk tans staan, gekoop en aan die gemeente geskenk. Op 6 Januarie 1974 is daar begin bou en op 17 Augustus daardie selfde jaar is die saal voltooi en ingewy. Die kerkgebou is eers in 1976 voltooi.
“Ons dank die Here vir ons voorgangers en vir hul harde werk en toewyding. Aan God al die eer vir hierdie wonderlike aanbiddingsplek,” sê die kerk.
Ds. Charles du Preez en sy vrou Belinda bedien nou al vir die afgelope 21 jaar dié gemeente.